Studente se onvermoë om eerstejaarsrekeningkunde as vak te slaag, is ’n nasionale en
internasionale probleem. Bestaande navorsing bied nie algemeen aanvaarde antwoorde
omtrent die oorsake van hierdie probleem nie. Dit maak ook nie voorsiening vir die
moontlike invloed van ’n dominante tydsperspektief op die prestasie in rekeningkunde
nie. Hierdie artikel doen ’n ondersoek om te bepaal of tydsperspektief ’n effek
het op die prestasie van eerstejaarsrekeningkundestudente. ’n Kwantitatiewe nieeksperimentele
meerveranderlike voorspellingsontwerp word gebruik en die effek van
steuringsveranderlikes word verreken. Die resultate van die studie dui aan dat geslag,
ouderdom en ’n negatiewe verlede-tydsperspektief beduidende verwantskappe met
prestasie in rekeningkunde toon. Die mees uitstaande resultaat van die studie is dat ‘n
negatiewe verlede-tydsperspektief tesame met ’n ongunstige psigososiale agtergrond kan
lei tot die onvermoë om rekeningkunde op eerstejaarsvlak te slaag. Daar word aanbeveel
dat studente met ’n negatiewe tydsperspektief geïdentifiseer en aangemoedig word om
aan universiteitsondersteuningsprogramme deel te neem